OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Oval Karting-groep het verlede Saterdag by die Red Rock-ovaalbaan, 3 km buite Oudtshoorn, hul eerste wedrenne aangebied wat goed deur petrolkoppe en ondersteuners bygewoon is.
Op die oog af was die verrigtinge van die dag puik georganiseer met altesaam 25 deelnemers, oud en jonk, wat mekaar spreekwoordelik gas gegee het.
Die vyf klasse waarin deelgeneem is sluit die ontwikkelings, 160/200cc klas (5 tot 14 jaar), 270cc (10 jaar en ouer), 390 en Super Mods in.
Die klub se voorsitter, Jean Steyn, het alle klubs uitgenooi om by hulle aan te sluit.
Steyn sê die knortjorgroep is begin vanweë baie geesdriftige plaaslike ryers wat knortjorwedrenne wou aanbied, maar die probleem is dat daar net een knortjorbaan naby Oudtshoorn is, en dit is in George geleë.
Die toeskouers het die renjaers met elke rondte, vurig ondersteun.
"Dis toe dat ons besluit het om die baan te begin bou op die bestaande Red Rock-ovaalbaan om dit vir ons makliker te maak om teen mekaar te kan ry. Dis ook hoekom ons verskillende variasies in verskillende bane ingebring het. Ons beplan om 24 Mei 'n gesellige aand by Route 62 Restaurant te hou waar die renjaers mekaar kan ontmoet en leer ken. Aan al ons borge soos Pitstop, Dan's Towing, Midas, Hendrikus Botha, Verwey Racing en George Nel wil ek my waardering uitspreek; dis die begin van groot dinge," het Steyn gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’