OUDTSHOORN NUUS - Die bekende internasionale klapvegter Danie van Heerden, tans vierde op die wêreldranglys vir Power Slap, het onlangs in Oudtshoorn gekuier, maar nie om mense te klap nie.
Van Heerden het saam met Jean-Pierre Whittingdale 'n paar besighede besoek en ook van Oudtshoorn se toerisme-aantreklikhede besoek.
"Oudtshoorn is 'n mooi skoon dorp. Dit was regtig nice om te sien hier gebeur dinge en mense is vriendelik en kyk na die dorp. Ek sal beslis eendag weer wil kom kuier."
Van Heerden het aanvanklik bekend-heid in EFC (Extreme Fighting Championship) verwerf, waar hy in 2017 as swaargewigkampioen gekroon is. Sy pad na Power Slap was egter onverwags.
"Ek het tydens Covid ernstig siek geraak en moes ophou oefen. Ek het gedink ek sal nooit weer professioneel aan sport kan deelneem nie."
Sy terugkeer na mededingende sport was toevallig. "Ek het een dag aan 'n klapkompetisie deelgeneem en my opponent het nege minute bewusteloos gelê. 'n Video daarvan het viral gegaan.
Eendag het my foon gelui en dit was Dana White, die president van UFC en Power Slap, wat my genooi het om deel te word van die sport. Ek het regtig gedink iemand maak 'n grap met my!"
"Slap fighting is eintlik meer tegnies as wat mense dink. Die grootste vereiste is dat jy gesond moet wees, geen kroniese siektes of hartkondisies het nie. Mense is geneig om te dink dat ek ongesond is omdat ek groot is, maar ek is baie gesond."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’