Die kursus het oor vier dae gestrek en op 'n plaas naby Mosselbaai plaasgevind waar die module een (intensiewe praktiese skietopleiding) gedeelte van die kursus, wat oor 'n tydsbestek van twee jaar aangebied word, afgehandel is.
Die kursus het afgeskop met 'n praktiese evaluasie in die veilige hantering van vuurwapens. Die studente moes die vuurwapen uit die geweersak haal, agter op 'n bakkie klim daarmee, afklim, voorin klim, deur 'n draadheining klim, 'n rivierstroom met los klippe oorsteek en vyf skote op 'n teiken afvuur. Dit het alles plaasgevind nét na aankoms om te evalueer op watter vlak die studente is.
Hierdie oefening is later herhaal met 'n aansienlike verbetering.
Interessante demonstrasies in die montering van teleskope en die inskiet van die jaggeweer is aangebied deur Fanus Venter.
Skietopleiding vanuit verskillende posisies en oor verskillende afstande het die hele naweek geduur. Deurlopende evaluering en herhaling het plaasgevind en letterlik duisende skote is afgevuur. Die verskillende dissiplines het plaasgevind op interessante bane wat spesiaal vir die kursus ontwerp en gebou is.
Vuurwapenveiligheid, etiek en dissipline was te alle tye die leuse.
Intussen was daar sterk kompetisie onder die manne, want die kursus was ook tweedoelig. Almal moes die CHASA skiettoets slaag alvorens hulle in aanmerking kon kom om die tweede been van die kursus (intensiewe jagopleiding in die Kalahari in 2013) te kan meemaak en daar is gespook om die titel as die beste skut tydens die kursus.
Al vyftien juniors het die skiettoets en mondelinge evaluering geslaag met Juka Gertsner die algehele wenner met 'n puntetotaal van 126/140 en Marnus Fouché in die tweede plek met 114 punte.
Die groep sien nou uit na die jagopleidingsgedeelte van die kursus wat volgende jaar in die Kalahari gaan plaasvind. Hierdie kursus begin met die beplanning van die jagtog, die skiet, ontwei en die afslag van die bok en vleisverwerking totdat die wors in die pakkie is.
Die opleidingsbeamptes was Dirk Black, Johan Lindeque, Len Nel, Dirkie Black en Gert Lerm.

Kursusgangers op die skietbaan.

Studente en opleidingsbeamptes wat by die kursus betrokke was.

Juka Gertsner by sy teiken.

Stephan du Plessis voor kykNET se kameras.