PERDRY NUUS - Die 16-jarige Lila Theunissen van Wilderness, het haar derde provinsiale victrix ludorum vir die jaar ingepalm by die Oos-Kaap-provinsiale jeug perdespringkampioenskappe die afgelope naweek.
Dié gr. 11 leerder van Hoërskool Outeniqua is aangewys as die victrix ludorum in die 1,30 m/1,35 m-kompetisie op haar perd Frosty Barak, en haar posisie as een van die topruiters in Suid-Afrika bevestig.
Vroeër die jaar het sy twee victrix ludorums by die Wes-Kaap-kampioenskappe gewen. Een in die 1,30 m/1,35 m-klas met Frosty Barak en een in die 1,10 m-klas met Superstar. Sy het ook uitstekende prestasies behaal met Superstar in die 1-ster Eventing en 6de in SA gekom.
Theunissen moes Star egter om finansiële redes verkoop.
"Dit is baie hartseer wanneer ek enige dier moet groet wat hulle hart vir my gegee het. Perdry is egter 'n baie duur sport wat baie harde werk en opoffering vra. Ek is so dankbaar vir die geleenthede en die ongelooflike ondersteuning wat ek wel kry," sê die dapper klein blondekop.
Theunissen en haar geliefde Frosty Barak.
Theunissen se ma, Lana, is haar handlanger en haar chauffeur en hulle spandeer baie ure saam aan die sport. Haar afrigter, Kelly Searle, is ook 'n topruiter wat uitstekende prestasies met haar leerlinge behaal.
Alhoewel perdryklere-borge Lila goed ondersteun, en sy ook 'n handelsmerk-ambassadeur vir Tackshop is, is daar twee berge wat sy nog moet klim - haar matriekeksamen volgende jaar en die wete dat Frosty naby aan aftrede is en sy 'n nuwe bekostigbare perd moet kry wat haar na selfs groter hoogtes kan vat.
Intussen droom sy van 'n borg wat SA kampioenskappe in Shongweni, Natal sal moontlik maak.
Theunissen op haar perd Frosty Barak, kort ná sy in die Oos-Kaap gewen het. Foto: Anke van Wyk, Germanpix
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'