OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se bekende langafstand-atleet, die 63-jarige Jason Jafta, sê hy gaan Sondag met sy 30ste deelname aan die Comrades-marathon van Pietermaritzburg tot in Durban, alles uithaal om vir die eerste keer 'n silwermedalje huis toe te bring.
Jafta sê hy het hard geoefen en sien uit na die wedloop.
Volgens hom het hy al by twee geleent-hede die afsnypunt vir die silwermedalje met enkele sekondes gemis, maar dat hy nog nie tou opgegooi het nie.
Hy neem as grootmeester deel en is goed voorbereid vir die uitdaging.
Hy het die afgelope tyd elke dag gedraf, tussen 40 en 50 km op 'n Saterdag of Sondag, 25 tot 40 km elke Woensdag en die ander dae van die week so 12 of 20 km.
Hierdie week was hy egter rustiger voor sy vertrek na Pietermaritzburg.
Jafta wat in Februarie vanjaar sy 38ste Kango-marathon voltooi het, het al aan al wat wedloop in die Wes- en Suid-Kaap deelgeneem en spog met medaljes 'vir Afrika'.
Gevra hoeveel medaljes dit is, het sy vrou, Maria, geantwoord dat hulle by 300 ophou tel het.
Jason Jafta by van sy medaljes. Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’