OUDTSHOORN NUUS - Met die nommer 555 blink op sy kar en vasberadenheid in sy oë, het die 10-jarige HJ Botha die afgelope naweek sy debuut gemaak op die stampkarbaan (stock car race track) in George.
HJ volg in die spore van sy pa, Hendricus Botha, 'n voormalige Suid-Afrikaanse kampioen in stampkarrenne, sy oom Henties, én sy oupa Hendrik, wat ook in dié sport 'n bekende naam was.
Die nommer 555, waarmee HJ nou self jaag, is al lank deel van die familie se renidentiteit.
Volgens sy ma, Magda Botha, het HJ verlede jaar in kaskarre (Go Karts) begin jaag, maar het die naweek vir die eerste keer die sprong na stampkarre gewaag.
Hy het in die Ninja Rods-klas deelgeneem en agter die stuur van sy Mazda 323 met 'n 1600 B6-enjin, gebou deur PTR Racing, gewys hy het talent én durf.
"My senuwees was gedaan, maar ek is so trots op wat hy bereik het," vertel sy trots.
HJ het drie kwalifiserende rondtes voltooi en dit toe tot in die finaal gemaak. As een van die jongste deelnemers op die dag, het hy almal verras deur in die derde plek in die finaal te eindig. Algeheel het hy sesde geëindig en hy was ook aangewys as die Bestuurder van die Dag.
Hendrikus Botha spog by HJ en sy motor voor die resies. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’