BOKSNUUS - Blackie Swart, bekende plaaslike boksafrigter het al verskeie jong boksers van die streek tot groot hoogtes gelei. Die afgelope jaar is hy ook die afrigter van 'n jong dame, Helé de Waal.
De Waal het sowat 'n jaar gelede by Divinus-boksklub aangesluit. Dié klub is op die George-skougronde geleë en maak deel van die SA Sports League uit.
Vandat De Waal (15) op die ouderdom van 14 begin boks het, was sy versot op die sport.
Sy het noukeurig na instruksies van die afrigter geluister en dan hard geoefen totdat sy die houe kon slaan net soos haar afrigter dit wou hê.
"Omdat sy so klein is, is dit altyd moeilik om vir haar gepaste skermmaats te kry. Sy is dan genoodsaak om teen die groter ouens te boks," vertel Swart. Swart rig ook boks in die laerskoolsaal op Groot Brak af.
Hy het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat De Waal gereeld ingespan word om teen nuwelinge wat kom boks, te skerm. Dié jong manne se ouderdomme wissel tussen 15 en 22 jaar. Die meeste van hulle kom nie terug as De Waal hulle pak gegee het nie. "Die verbasing op hulle gesigte is soms lagwekkend, want niemand besef aanvanklik hoe vaardig sy met boks is nie," sê Swart.
"Dit is moeilik om vir haar gepaste teenstanders op toernooie te kry. Só het een van haar teenstanders vroeër hierdie jaar onttrek die oomblik toe Helé in die kryt klim, want die ander klubs se boksers is deeglik bewus van haar vermoëns," vertel Swart.
De Waal sal op 26 Augustus tydens die George-skou weer in aksie wees.
Sy sal ook later vanjaar aan die WP junior-kampioenskappe deelneem, sodra die plek en reëlings gefinaliseer is. Sy is 'n voorbeeld wat toewyding aanbetref en Swart glo dat sy groot hoogtes in die sport sal bereik, omdat sy van nature 'n klein vegter is.
"Sy is verseker "dinamiet in 'n klein pakkie," sê hy. Vir navrae oor die klubs en oefentye kan Blackie Swart gekontak word op 074 117 6056.
Klein Helé de Waal saam met afrigter, Blackie Swart.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'