OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde jaarlikse Leopard Crawl bergfietswedrenne en veldwedloop wat deur Laerskool Wesbank aangebied word, het verlede Saterdag op Valentynsdag in ideale weersomstandighede plaasgevind.
Bykans 180 bergfietsryers en ongeveer 60 atlete het aan die verskillende items deelgeneem. Die Leopard Crawl is die perfekte geleentheid vir gesoute fietsryers en atlete en ook vir die hele gesin.
Daar is 'n uitdagende 72 km en 45 km-bergfietsren en dan is daar ook 'n 18 km-pretwedren waaraan die hele gesin kan deelneem. Die langer bergfietswedrenne is deel van die Eden XCM-reeks wat fietsryers reeds vroeg in die jaar geleentheid gun om punte aan te teken.
Die veldwedloop het oor 'n roete van 12,5 km plaasgevind.
Die fiets van Marco Pohl van George het waarskynlik meeste van die aandag getrek. Hy het die 18 km-roete aangedurf op 'n tall bike met 24 ratte en ongeveer 1,7 m hoog wat hy self gebou het. Sy vriendin, Sinead Hattingh van Oudtshoorn, wat op 'n gewone bergfiets saam met hom gery het, het aan Oudtshoorn Courant gesê Marco is besig om vir haar ook 'n tall bike te ontwerp.
"Marco lewe vir fietsry en vir veral klassieke en vreemde fietse. Hy het al 'n hele aantal fietse self gebou en gerestoureer, maar hierdie is sy eerste tall bike."
Hy het die 18 km-wedren in 1:13:50 voltooi wat meer as 'n halfuur vinniger was as die laaste deelnemer. Sinead sê sy tyd sou veel vinniger gewees het as hy nie vir haar moes wag nie.
Die uitslae van die verskillende wedrenne was as volg:
- 72 km-mans: Bert Verlinde (2:25:19), Wynand Mulder (2:29:12) en Pierre Terblanche (2:31:48)
- 72 km-vroue: Yolande de Villiers (2:29:01), Retha Mostert (2:41:37) en Lizelle Terblanche (3:10:21)
- 45 km: Joze Baartman (1:45:38), Sepha Lucas (1:45:40), Leon le Roux (1:46:23) en Jordan Biljohn (1:48:29)
- 18 km: Caleb Kock (46:20), Alejandro Barnard (46:21), Johnwin le Roux (46:21) en Adin Aries (47:40)
- 12,5 km-veldwedloop: William van Tonder (48:20), Ane Bester (1:00:33), Chris-Mare Schoeman (1:03:02) en Markus Kleyn (1:05:47)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’