OUDTSHOORN NUUS - Twee gr.11-leerders van Oudtshoorn, Charlissa Schultz (17) en Benino Hans (17), is tans besig om groot opgang in die fietsrywêreld te maak. Schultz, 'n leerder verbonde aan Langenhoven Gimnasium, is verlede week in die SA junior dogtersfietsryspan opgeneem wat vanaf 13 to 20 Mei in Ethiopië aan die Afrika kontinentale padkampioenskappe gaan deelneem.
Die fietsry-gogga het Schultz op 14-jarige ouderdom gebyt en sy het besluit om fietsry as 'n sportsoort te beoefen. Sy vertel dat dit 'n moeilike besluit was omdat sy in ander sportsoorte ook uitgeblink het.
"Ek het egter in fietsry die spreekwoordelike hoër rat gevind, en van toe af het ek besluit om uitsluitlik net op dié sport te konsentreer", het sy gesê. Die afgelope jaar het Schultz ook eerste plekke by die Herald Continental Padfietsren (PE) en die Wes-Kaapse fietsrykampioenskappe (De Rust) ingepalm.
Benino Hans, wat verlede jaar die Groter Oudtshoorn-sportraad se hoërskool sportman van die jaar toekenning ingepalm het, is ook vroeër vanjaar vir die SA junior seunsfietsrytoergroep gekies wat vanaf 17 Junie tot 20 Julie in Europa aan internasionale fietstoere gaan meeding.
Hy is tans 'n leerder van Bridgton Sekondêr. Hans het ook tweede plekke by verlede jaar se SA padrykampioenskappe en verlede week se Herald Continental Padfietsren (PE) losgery.
Albei fietsryers droom daarvan om eendag beroepsfietsryers te word.
Fietsry SA borg tans net een sweetpak en een stel fietsryklere.
Persone of instansies wat hierdie leerders wil borg om in die buiteland te gaan deelneem kan 078 121 6124 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'