OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die o. 19 A-rugbyspan van Langenhoven Gimnasium het hul eweknieë van Hoërskool Oudtshoorn Saterdagmiddag op laasgenoemde se tuisveld in 'n derbywedstryd oortuigend met 53-15 geklop nadat hulle reeds met rustyd 29-3 voorgeloop het.
Die wedstryd, wat uit die staanspoor teen 'n hoë tempo gespeel was, het regdeur albei skole se ondersteuners wat in hul duisende opgedaag het, op hul voete gehou.
Struisies, soos Hoërskool Oudtshoorn se sportspanne ook bekend staan, se verdediging was egter met reëlmaat oopgevlek deur Gimmies se agterspelers wat eenvoudig te veel spoed vir hul teenstanders gehad het.
Vir die maroentruie wat in die tweede helfte hul verdediging opgeskerp het en twee vinnige drieë na mekaar gaan druk het, was daar vir 'n wyle hoop dat daar wel 'n terugvegpoging op die kaarte vir die tuisspan sou wees.
Gimmies het egter die wedstryd buite hul bereik geplaas toe dié span sy voorsprong van die eerste helfte vergroot het met vier onbeantwoorde drieë. Gimmies se kaptein, Johann Müller, het na die wedstryd gesê dat dié span nie verwag het om so vêr te wen nie. "Ek is veral trots op die manier hoe die manne by ons verdedigings en aanvalstrukture gehou het toe ons onder druk was en sodoende alle lewe uit Struisies se spel gewurg het. Ons het wel vroeg in die tweede helfte slap gelê deur hulle toe te laat om twee drieë na mekaar te druk, maar na 'n paar harde woorde deur die leiers in die span het die ouens weer 100 persent gefokus en kon ons die uitklophou plant en selfs sout in hul wonde insmeer, het Müller gesê.
Gimmies se lossakel, Bradford Hendricks het in die wedstryd 18 punte aangeteken (2 drieë en vier doelskoppe).
Carmen Hutchins (regs) van Gimmies, probeer die bal onder beheer bring in die meisies o.19 A-hokkiewedstryd teen Struisies.
Gimmies se puntemakers:
Drieë
- Bradford Hendriks (losskakel) 2
- Fransie van Rooyen (agsteman)
- Adrian Palmer (vleuel) 2
- Shadon Beleli (senter)
- Jean Ferreira (haker)
- Michael Jooste (stut)
- Pieter Oosthuizen (flank)
Doelskoppe
- Bradford Hendricks (losskakel) 4
Die trotse o.19-sportkapteins van Langenhoven Gimnasium wat die afgelope naweek in hul onderskeie sportkodes met Hoërskool Oudtshoorn afgereken het, is van links: Johann Müller (rugby), Marizaan Janse van Rensburg (onderkaptein van die netbalspan), Sharè Lund (hokkie), Louis Jonck (hokkie). Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'