OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium het 'n nuwe sportkondisioneringsafrigter, Devon van Onselen, aangestel. Van Onselen, wat oorspronklik van Port-Elizabeth is reeds sedert Januarie in hierdie gespesialiseerde pos by dié skool.
Sy posbeskrywing behels dat hy toesien dat al die skool se sportleerders die nodige fisiese gimnasiumwerk doen, en ook om leerders te help met rehabilitasie-programme vir diegene wat met beserings sukkel.
Hy kan ook dieetplanne voorstel. Die leerders se vordering word dan op 'n dataverwerkings-program gemonitor om vas te stel in watter areas daar nog verbeter kan word.
Van Onselen se ervaring sluit in dat hy vanaf 2015 tot 2017 Indië se olimpiese-atletiekspan met hul fiksheids- en kondisioneringsvlakke help slyp het.
Hy het ook voorheen 'n soortgelyke rol by die Northern Titans-krieketspan vertolk waar hy met sportsterre soos Farhaan Behardien, Henry Davids en Heinrich Klaassen gewerk het.
"Daar is niks so vervullend in my werk as om talent voor jou te sien ontwikkel en dan na die volgende vlak te neem nie," het hy gesê.
Volgens die skoolhoof van Langehoven Gimnasium, Stephanus Potgieter, kan die skool se sukses vanjaar op die sportveld aan 'n gesamentlike poging van al die spesialis-afrigters in diens van die skool toegeskryf word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'