OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium se astrobaan, wat in 2020 die lig gesien het, se spreiligte is verlede Donderdag aangeskakel en op gepaste wyse gevier met 'n heerlike braai en vriendskaplike wedstryde.
Die verrigtinge het om 06:00 begin met 'n wedstryd tussen Gimmies se A en B seunshokkiespanne wat mekaar getakel het. Tussendeur al die pret het die vure hoog gebrand met ondersteuners, ouers, leerders en onderwysers wat 'n lekker tjoppie op die kole gegooi het.
Om 20:00 was dit tyd vir die hoofwedstryd tussen Gimmie-onderwysers wat die A-span dogters onder die helder ligte van die astrobaan aangedurf het. Dit was 'n mededingende affêre wat die skare regdeur die wedstryd op hul voete gehad het.
Die dogters het deurentyd strawwe weerstand gebied, maar na die eindfluitjie geblaas het was dit die onderwysers wat met die louere weggestap het met vier doele teenoor een.
Al was van die onderwysers se spiere lekker styf die volgende dag, het hulle aangedui dat hulle die wedstryde baie geniet het en sien hulle uit om weer die skool se hokkiespanne in die nabye toekoms aan te durf.
Intussen is Gimmies se hokkiespelers hard aan die oefen vir die 2024-seisoen wat voorlê wat selfs toere insluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’