OUDTSHOORN NUUS - Bouwerk aan die nuwe hokkieveld by Langenhoven Gimnasium is goed op dreef en behoort teen einde Maart voltooi te word.
'n Nederlandse maatskappy, Cober Sport het vanaf verlede Woensdag reeds begin om die sintetiese matte te installeer. Sodra hierdie proses voltooi is, sal 88 ton sintetiese sand oor die sintetiese grasoppervlak gestrooi word.
Dié grasoppervlak, wat volgens spesifikasies vervaardig is, is verlede jaar vanaf België ingevoer.
Die sintetiese sand sal dan ingeborsel word op dié grasoppervlak vir die doel om die vesel regop te hou tydens spel.
Volgens die skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, Stephanus Potgieter is dié projek nou in sy finale fase en sal die omheining en doelhokke oor twee weke opgerig word. Planne is ook in die pyplyn om spreiligte te installeer.
'n Beoogde openingshokkietoernooi in Mei tussen plaaslike laer- en hoërskoolspanne is reeds in 'n gevorderde stadium.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'