OUDTSHOORN GIMNASTIEKNUUS - Lydia le Roux (16), 'n leerling van Langenhoven Gimnasium is op 19 Junie gekies vir die o.16 Suid-Afrikaanse netbalspan.
"Dit was my droom om in die SA span opgeneem te word en dit het uiteindelik waar geword," het sy gesê.
Sy was vanaf 16 Junie in Boksburg waar sy die Wes-Kaap as deel van die o.16 Willows-span in die All Ages SA toernooi verteenwoordig het.
"Ons was 35 meisies wat gekies is om aan die proewe deel te neem en op 19 Junie het hulle my naam as hulpdoel vir die span geroep. Dit was regtig 'n ongelooflike oomblik." Lydia sê haar grootste ondersteuners is haar pa, ma en broer wat altyd langs die baan is om haar te ondersteun.
"Ek is baie dankbaar dat hulle altyd daar is."
Lydia en haar span gaan vanaf 21 tot 25 Augustus Suid-Afrika by die COSASSA-toernooi in Zambië verteenwoordig.
Haar liefde vir netbal het as laerskoolleerder by Laerskool Wesbank begin.
"Ek het baie van my vaardighede by juffrou Nelita Botha geleer. Ek moet eintlik vir haar baie dankie sê vir die groot aandeel wat sy in my netballoopbaan gehad het."
By Gimmies is sy as o.14-speler deur Charmaine Stemmet afgerig en speel sy reeds van 15-jarige ouderdom in die eerste span.
"Hier het juffrou Tania van der Linde gesien dat ek eintlik 'n verdediger is en sy het my die geleentheid gegee om my potensiaal as verdediger te ontwikkel. Ek wil graag aan ander netbalspelers sê om altyd jou drome te volg. Jy hoef nie in 'n groot skool te wees om uit te blink nie. Ons plattelandse skole hoef vir geen ander skool terug te staan nie.
"Ek speel netbal met die volgende leuse: Keep on, keeping on."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'