OUDTSHOORN SPORTNUUS - 'n Fietsryonderneming in Oudtshoorn se idee om fietsry-kleredrag en toebehore vir ontwikkelende fietsryers in te samel, vorder fluks.
Volgens Cornè Serfontein van Cycle Addict, het sy eendag op hul onderneming se WhatsApp-groep vir die lede gevra om fietsryklere en skoene of toebehore van enige aard te skenk wat sy dan in 'n houer in hul winkel plaas.
"Die idee was om die klere aan ontwikkelende ryers te skenk wanneer hulle die winkel besoek. Sommige van die ouer ryers se items is te groot vir die jong ryers, maar dan verkoop ons dit, en sit die geld in 'n aparte fonds. Hierdie gelde word dan gebruik vir wanneer hierdie fietsryers inskrywingsgelde benodig vir fietsrytoenooie. Of ons maak kontantkoevertjies op wat hierdie fietryers kan wen by toernooie."
Serfontein sê dat hulle tot dusvêr drie ontwikkelende fietsryers op dié manier gehelp het. "Dis maar 'n klein gebaar van ons kant af wat ek ter wille van myself en vir Oudtshoorn-fietsryklub doen.Ons besef dat fietsry 'n duur sportsoort is, maar sommige ryers het eenvoudig te veel talent om netso te ignoreer. Die ander ding is ook om kinders van die straat af te hou en om hulle te verhoed om ledig te wees. Die alternatief is om liewer die speke te laat sing," het Serfontein benadruk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'