Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee fietsryers van Nederland, wat tans vanaf Kaapstad na Kairo onderweg is, is vol lof vir die gasvryheid van Suid-Afrikaner.
Die Oudtshoorn Courant het op 8 Maart oor Elbert en Syneke Achterstraat se fietstoer berig toe hulle in De Rust 'n ruskans geneem het. Die twee het verlede week in Kimberley aangekom en laat weet dat hulle goed op dreef is met hulle tog van meer as 7 000 km. In 'n e-pos het Elbert verlede week laat weet dat die hulpvaardigheid en gasvryheid van mense wat hulle op hulle roete ervaar het, ongelooflik is.
Hy sê onder andere die volgende oor Suid-Afrikaners: "Your people's attitude and approach to one another reminds me of the good old days of my childhood when these habits existed in our country (Holland) in abundance but, evaporated over time as our numbers rose from 5 to 17 million, and we became more effluent and individualistic.
"Whatever your problems are - and I understand you have a few items of worry - your culture in regard to strangers is a great one, which you should cherish."
Elbert sê van die voorbeelde van welwillendheid op hulle rit is byvoorbeeld 'n hulpvaardige motoris wat gesien het hulle sukkel om die Lootsbergpas naby Graaff Reinet op te trap en hulle toe fiets en al, opgelaai het. Later die dag het hulle 20 km voor Middelburg in 'n hewige donderstorm en sterk wind vasgery en weereens het 'n verbyganger in 'n bakkie hulle opgelaai en tot by 'n gasteplaas geneem.
Syneke kry die geleentheid om by een van hulle oornagplekke 'n bokkie te voer. Foto's: Elbert Achterstraat
Toe hulle 'n paar dae later by die enigste gastehuis in Fauresmith opdaag was die plek volbespreek. 'n Inwoner het hulle penarie gesien en hulle gratis by sy huis laat oornag.
Ander voorbeelde van vriendelikheid wat hulle ervaar het is mense wat hulle voorkeer met bottels yskoue water en koeldrank en om net geselsie aan te knoop en ondersteuning te bied.
Volgens die egpaar se beplanning behoort hulle iewers in Junie in Kairo aan te kom. Hulle het onderneem om van tyd tot tyd te laat weet hoe hulle vorder.
Lees 'n vorige artikel: Fietsryers vol lof vir SA
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'