OUDTSHOORN SPORTNUUS - Oudtshoorn se Fienie en Kobus Barnard was Saterdag as die algehele wenners in die gemengde pare afdeling van die Momentum Cape Pioneer Trek-bergfietstoernooi gekroon.
Vir Fienie en Kobus was dit 'n soete oorwinning omdat hulle verbeter het op verlede jaar se tweede plek wat hulle ingepalm het.
Die wedren, wat deur Biogen aangebied word, het vanjaar oor 'n splinternuwe roete vanaf Mosselbaai tot Oudtshoorn plaasgevind en het oor sewe dae gestrek.
Die laaste skof het Saterdag by Chandelier Wildsplaas begin waarna die deelnemers voor die Queens Hotel geëindig het. Nog twee Oudsthoorniete, Yolande de Villiers en Kevin Taljaard, het in die algehele tweede plek klaargemaak.
Veral Yolande kan trots wees op haar prestasie omdat sy onlangs in 'n ernstige ongeluk betrokke was. Sy het haar tibia op vier plekke gebreek en ook 'n fraktuur aan haar fibia opgedoen.
Gert Heyns en Arno du Toit het in die UCI Elite-mansafdeling koning gekraai met Gerbon Mos en Tim Smeenge in die tweede plek. Die UCI Elite-vroueafdeling is deur Theresa Ralph and Sarah Hill gewen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'