OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-jukskei bied Saterdag 6 Julie hul heel eerste Grootvoëlparadys-jukseidag aan.
Lulu Zeeman, lid van die klub, sê dat Oudtshoorn baie jare gelede 'n groot klub gehad het, en dat hulle jukskei in die dorp wil laat herleef.
"Ons het al 'n hele paar mense by die klub, maar hoop om sommer nog baie belangstelling te kry. Jukskei is regtig 'n sport vir enigiemand. Enige persoon van enige ouderdom kan deelneem.
"Die spel bestaan uit die gooi van 'n skei oor 'n vasgestelde afstand, in die rigting van die pen wat in die sandput geplant is. Dit word in spanverband van twee of meer persone gespeel. Die spanlede hoef ook nie dieselfde ouderdom te wees nie."
Die dorp se jukskeibaan is agter die De Jager-sportkompleks, met die ingang in St. Johnstraat.
Volgens haar het hulle tot dusver goeie belangstelling gekry van spanne van ander dorpe om aan die jukskeidag deel te neem.
"Ondersteuners is natuurlik ook welkom."
Registrasie begin om 07:30 en wedstryde begin stiptelik om 08:30. Kostes beloop R200 per span.
Vir meer inligting kontak Zeeman by 071 193 1332 of Sheree Botes by 066 1498 122.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’