OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope Fietsry SA se Jeugfees fietsrykampioenskap wat in Oudtshoorn aangebied is, word deur die Eden- en Wes-Kaapse fietsrypresident, Corné Bence, as 'n groot sukses beskryf. Eden was ook die wenners van die kampioenskap.
Die kampioenskap is as deel van die Oudtshoorn-sportfees van Maandag 26 Junie tot Donderdag 28 Junie aangebied.
Spanne van Eden, OP, Vrystaat, Boland, Weskus, KZN, Gauteng en die Kaapse Wynlande het deelgeneem. Eden het die algehele kompetisie met slegs 17 punte gewen. Oos-Kaap was in die tweede plek en het tot die einde hard baklei om die agterstand in te haal.
Eden het in die loop van die week met 59 podiumposisies weggestap waarvan 19 goud, 24 brons en 16 silwer. Vyf Eden-ryers is as die wenners in hulle ouderdomskategorie aangewys.
Hulle is Gita Hildebrand (o.11), Morgan Jones (o.13), Marli Blom en Alissa Coetzer o.15 - gesamentlik eerste) Kirsten Roelofse (junior).
Maandag het die fietsryfees met padrenne en tydtoetse begin. Dinsdag is criterium-renne in Bridgton aangebied, gevolg deur Woensdag se veldrenne.
Na die veldrenne is twee Hybrid Track-renne Woensdag en Donderdag op die Oudtshoorn-ovaalbaan aangebied. Eden-fietsry het vanjaar vir die agtste keer die kampioenskap aangebied.
"Die kompetisie gedurende die week was van hoogstaande gehalte en die puntestand gedurende die kompetisie was baie naby aan mekaar," het Bence gesê.
ImSekondes voor die wegspring van die 107 km-ren. Foto's: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'