Die Eden-sportraad het raakgevat met die aanwysing van sy toppresteerders en sportlui vereer uit die groot poel benoemde talent waaruit dié raad moes oes.
Sowat 300 mense het die glansgeleentheid Vrydagaand in die George-burgersentrum bygewoon. Lawrence Ndlovu, lid van die seëvierende Suid-Afrikaanse roeispan, wat in 2012 goud by die Olimpiese Spele in Londen verwerf het, was die geleentheidspreker.
Die branderplankryer Bianca Buitendag en die Protea-skut Jaco Brink is onderskeidelik as sportvrou- en sportman van die jaar aangewys.
Buitendag is, onder andere, aangewys as nuweling van die jaar by die vroue-wêreldkam-pioenskappe en is tans een van die voorste branderplankryers in die wêreld.
Brink, wenner van die Suid-Afrikaanse Ope, het 'n leidende rol gespeel in die Proteas se oorwinning in 'n toetsreeks oor Australië.
Die belowende gholfspeler Jovan Rebula, wat onlangs aan die junior wêreldkampioenskappe in Florida deelgeneem het, is die junior sportman van die jaar. En die ewe belowende Jo-Ane van Dyk, 'n goue medalje-wenner in spiesgooi by die SA junior en senior kampioenskappe, is as junior sportvrou van die jaar bekroon.
Die Kwagga-reus Eduard Zandberg, wat die SA skolerugbyspan aangevoer het, is as hoërskole-sportman van die jaar aangewys en Amy Williams van Oakhill in Knysna as hoërskole-sportvrou van die jaar.
Agt mense is spesiaal vereer vir hul lewenslange bydrae tot sport: Manie Olivier, Danny Reed, Gerald de Jager, Abe Steenberg, Akker van der Merwe, Sunette Marais, Jurgie Zwiegelaar en Mari Zwiegelaar.
Daar is ook hulde gebring aan oorlede sportmanne, wat diep spore in sport in die SWD getrap het: Vernon Rothman, Clive Ferredale, Leonard Hur-ling, Arthur Johnson, Jan Lotz en Nico Geldenhuys.
Die ander topwenners is: Bewin Stander en Vicky Scheepers, onderskeidelik as gestremde sportman en -vrou van die jaar; Jordan Duminy en Nicola Purtter, onderskeidelik as laerskole-sportman en -vrou van die jaar; Imizama Yethu-krieketspan (ontwikkeling-skolespan van die jaar); Barbarians-rugbyklub (Riaan Loots-toekenning vir sportbevordering); Shireen Noble (beste administreerder); Piet Lourens (beste skoolafrigter); Deon Davids (beste afrigter); Sanwyn Smith (beste nuwe-ling); Trevor Davis (tegniese uitmuntendheid); Anita Barnard (beste vrywilliger); Mervin Minnies (beste in inheemse sport); die William en Lucinda Edwards-seiljagspan (span van die jaar); Hoërskool Oakdale se 560 kg-toutrekspan wat goud by die wêreldkampioenskappe in Amerika gewen het (skole-span van die jaar).
Dié spoggeleentheid is ruim ondersteun deur die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur, die George-munisipaliteit, Top Gear Sport, wat R5 000 se sporttoerusting geskenk het, en Coca-Cola Fortune.

Atletiek SWD, wat as sportfederasie van die jaar aangewys is, met die atlete onder sy vleuel wat vir hul prestasies in atletiek vereer is.

Die Protea-skut Jaco Brink (regs) is aangewys as sportman van die jaar. Lawrence Ndlovu, Olimpiese goue medalje-wenner in roei en geleentheidspreker, het sy prys oorhandig.

Die finaliste vir sportfederasie van die jaar saam met George se onderburgemeester, Daniël Maritz (regs). Atletiek SWD is aangewys as wenner. Moses Gericke, president van ASWD (tweede van regs) hou die wennerstrofee vas.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'