OUDTSHOORN NUUS - Agt skuts van Eden-jaggeweerskiet het tydens die nasionale jaggeweerskiet op 11 en 12 Mei uitgeblink. Die agt was deel van die Edenspan van 16 skuts wat in Volksrust aan die byeenkoms deelgeneem het.
Die land se top-50-mans, top-20-dames en top-20-juniors is na die byeenkoms genooi. Die skuts het in drie kompetisies meegeding. Elke kompetisie het uit ses bane met vyf skote per baan bestaan.
Dit beteken dat elke skut 90 skote sekuur moes afvuur om in aanmerking te kom vir Protea-kleure. Aan die einde van die kompetisie is 'n mans-, dames- en junior Proteaspan asook die SASSCO Presidentspan aangekondig.
Die volgende Eden-skuts is in die onderskeie spanne opgeneem:
- Manus Moolman, wat 'n junior skut is, is in die senior Proteaspan opgeneem.
- Christo Delport en Jacques du Plooy kwalifiseer vir die SASSCO Presidentspan.
- Junita van Zyl eindig eerste in die damesafdeling en verwerf dus die nommer een posisie in die dames Proteaspan. Anita Butler en Marietha Moolman is ook in die span.
- Leras van Zyl en Anlo Ferreira word in die junior Proteaspan opgeneem.
Manus Moolman, wat 'n juniorskut is, is in die senior Proteaspan opgeneem.
Die spanne waarin die Eden-skuts opgeneem is, neem in Julie in Bloemfontein deel aan die wêreldbyeenkoms teen verskeie lande wat Namibië, Swede, Czech Republiek en Australië insluit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'