OUDTSHOORN NUUS - Eden se tafeltennisspelers het tydens die afgelope Wes-Kaapse tafeltenniskampioenskappe, by die De Jager-sportkompleks, die streek se naam hoog gehou.
Die kampioenskappe is Saterdag 21 Oktober vir die eerste keer in Eden aangebied. Oudtshoorn het vir die dag se spel, gasheer gespeel. Drie streke vanuit die Wes-Kaap, Eden, Kaapse Wynlande en Weskus het deelgeneem.
Twee van Eden se spanne, die o.15-meisies en senior mans, het in die groepkompetisies goue medaljes verower.
Twee spelers van Oudtshoorn, Taurique Khan en Matthew Meyer, het 'n tweede plek in die o.18-dubbelspel losgeslaan.
Slegs goue medaljes is aan kategoriewenners oorhandig.
Garshen Williams, voorsitter van Eden-tafeltennis het die Wes-Kaapse departement van sport en rekreasie, asook die Eden-sportraad, geloof vir hul harde werk en die feit dat hulle dit moontlik gemaak het dat die kampioenskappe plaaslik aangebied kon word.
Om betrokke te raak by Eden-tafeltennis, kan Williams by 071 207 0270 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'