SUID-KAAP SPORTNUUS - Charlize Murphy (nuweling van die jaar), Minke Janse van Rensburg (gestremde sportvrou van die jaar) en Nadia Jacobus-Julies (vrywilliger van die jaar) van die Eden-streek het Saterdagaand in Kaapstad tydens die Wes-Kaapse sporttoekenningsaand deurgedring na die nasionale sport toekenningsaand wat later vanjaar in Durban gehou word.
Verskeie atlete, administrateurs en amptenare van verskillende sportsoorte van oor die Westelike Provinsie is by hierdie geleentheid vir hul prestasies die afgelope jaar vereer.
Sowat 500 gaste het dié spoggeleentheid bygewoon.
Veral Murphy, wat van Oudtshoorn afkomstig is, se prestasie is merkwaardig omdat sy verlede jaar eers kompeterend aan fietswedrenne begin deelneem het en met die intrapslag medaljes (goud, brons en silwer) verower het.
Hierdie prestasies het aan haar 'n plek in die SA o.19-dogtersspan besorg.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het in haar spreekbeurt beklemtoon dat sport 'n magtige wapen is om die bose kringloop van geslagsgebaseerde misdaad hok te slaan.
Minke Janse van Rensburg.
Met die aanvang van die seremonie was daar ook 'n minuut stilte vir die afgestorwe nasionale rugbyheld, Chester Williams.
Chad le Clos (Olimpiese swemmer) is as Wes-Kaapse Sportman van die Jaar aangewys, terwyl Herchelle Jantjies (Springbok-rugbyspeler) 'n ministeriële toekenning ontvang het.
Eden-sportraad se finaliste wat na die Wes-Kaapse sporttoekennings deurgedring het:
- Administrateur van die jaar - Corné Bence
- Span van die jaar – SWD Arende
- Fotograaf van die jaar - Ebenezer Titus (vryskutfotograaf)
- Rekreasie instansie van die jaar - Oudtshoorn Christelike Jeug Forum
- Skoolspan van die jaar - Laerskool Van Reede-trompoppies
- Federasie van die jaar - Eden Biathlon
- Gestremde sportman van die jaar - Phillo Verlaat
- Sportjoernalis van die jaar - Wyndham Ewerts
Nadia Jacobus-Julies.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'