OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-jaggeweerskietvereniging bied op 16 Maart die jaarlikse Eden Ope-toernooi in die Bo-Langkloof by Louvain-gasteplaas aan.
Dié gewilde jaggeweerskietkompetisie word in samewerking met Kloppers (George) aangebied wat ook die hoofborg is. Skuts sal vanaf verskeie jagposisies getoets word oor onbekende afstande op vier papier- en twee staal gongbane beslis sal word.
Pryse en gelukstrekkings ter waarde van R100 000 is op die spel vir wenners in die verskillende kategorieë.
Die eerste been van die interdistrikte wat Eden, Cape Winelands en WP distrikte se senior, dame en junior spanne insluit, sal ook gedurende die toernooi plaasvind.
Die skiettoernooi sal teen 15:00 afgehandel wees, waarna die prysuitdeling in die Louvain-gasteplaas se onthaalsaal met 'n ete afgesluit sal word.
Daar word ook die eerste keer vir 'n standaard .222/223 kaliber kategorie voorsiening gemaak.
Voornemende deelnemers kan op die Suid-Afrikaanse jaggeweerskietvereniging se nasionale webblad by www.sahuntingrifle.co.za vir die skiettoernooi inskryf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'