OUDTSHOORN NUUS - Twee landelike o.15-sokkerspanne van Calitzdorp en Lategansvlei het mekaar in 'n vriendskaplike wedstryd Saterdag 2 September getroef om die meeste doelskoppe.
Die wedstryd het op Stadion An Der Alten Försterei 2-sokkerveld op Lategansvlei plaasgevind.
Die eienaar van die sokkerveld, wat sportbevordering in die Lategansvlei landelike gebied 'n prioriteit gemaak het, Dario Urbanski, het Maandag gesê: "Alhoewel Lategansvlei se kinders met 10-0 gewen het, is die wedstryde aangebied as bevordering van sport. Die telling maak nie saak nie."
Tien Duitse sokkerliefhebbers en gaste van Urbanski, het die wedstryd bygewoon. Hulle het die afrigter van Calitzdorp se o.15-sokkerspan, Eslin Arendse, met twee Stonebreaker Country Lodge verblyfbewysse, vir sy onbaatsugtige gemeenskapsdiens aan kinders in die landelike gebiede en binne Calitzdorp, beloon.
Hulle het ook sokkertruie aan die Calitzdorp-sokkerspannetjie geskenk. Urbanski het gesê hy en Duitse toeriste wil minderbevoorregte kinders in sport ophef. "Die Duitsers is lief daarvoor om sulke projekte aan te pak."
Oor Arendse se gemeenskapswerk, het hy gesê: "Arendse is 'n uitmuntende jeugwerker."
Calitzdorp (in blou) en Lategansvlei se landelike o.15-sokkerspanne, by van die Duitse toeriste.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'