OUDTSHOORN NUUS - Dave van der Walt (67), 'n bekende in sportkringe, het onlangs in Century City, Kaapstad, die Lifetime Achievement Award ontvang vir 'n leeftyd se uitstaande bydrae, opoffering en verbondenheid aan sport in die Eden-distrik, sowel as die Wes-Kaap.
Sowat 200 gaste het die glansgeleentheid bygewoon, met Anroux Marais, minister van kultuursake en sport wat onder die gaste getel het.
Volgens Dave het hy besluit om na 44 jaar die tuig neer te lê.
"Dit is maar moeilik, want na soveel jare in sportadministrasie kan 'n ou nie net skielik afskakel nie. Ek doen nog hier en daar selektiewe werk soos die Vrystaatse Sportraad wat my onlangs genader het om hul grondwet te kom oorskryf. My hooffokus is egter nou om te rus en tyd met my kleinkinders te spandeer," sê hy.
As topafrigter van formaat het Dave ook Oudtshoorn se Olimpiese 200 m-atleet, Isabel le Roux afgerig.
Een van sy grootste nalatenskappe is die feit dat hy die bekende Highgate Interprovinsiale byeenkoms vir 27 jaar gereël het, asook twee SA kampioenskappe.
Die sukses van die huidige Eden-sportraad kan ook tot 'n groot mate aan hom toegeskryf word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'