DYSSELSDORP NUUS - Jong sportmanne en -vroue van Dysselsdorp is genooi om aan die Cup of Heroes in Pretoria te gaan deelneem.
Die multi-sportgeleentheid vind gedurende die September-vakansie plaas. Dit word beskryf as die sportontwikkelingsinstansie, Score, se vlagskip sport en ontwikkelings-kampioenskap.
Daizy Action-sportklub se voorsitter, Elton du Plessis, het egter 'n pleidooi gelewer om finansiering om hul deelname moontlik te maak.
Saam met die afrigters en spanbestuurders is hulle 30 atlete wat aan die sokker, netbal, vlugbal, asook kultuur items, soos drama, dans en kuns gaan deelneem, indien borge dit vir hulle moontlik maak.
Die span benodig ongeveer R60 000 vir slaapplek, brandstof, etes en vervoer. Enige individue of instansies wat Daizy Action-sportklub finansieel wil bystaan, kan Du Plessis kontak by 081 873 2320 of daizyactionsportsclub@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Dysseldorp, Klein Karoo nuus'