OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se bekende jong fietsryers, Charlissa Schultz (17), het op 24 Maart by die SA baanfietsrykam-pioenskappe in Kaapstad 'n goue medalje in die punte-wedren afdeling ingepalm. Wat haar prestasie so merkwaardig maak is die feit dat sy vir die eerste keer in haar fietsryloopbaan op 'n binnenshuise fietsrybaan gery het.
Schultz, is tans 'n leerder van Langenhoven Gimnasium. By hierdie toernooi het sy 'n bykomende agt medaljes in die tydtoets (silwer), 1 500m (brons), 'scratch' (silwer), keirin (silver), individuele-jaagtog (silwer), span-jaagtog (goud) en bronsmedalje in die omnium-fietsryafdeling gewen.
"Ek moes baie gou my voete by dié toernooi vind omdat my teenstanders ongenaakbaar in hul benadering was."
Alhoewel ek algeheel redelik goed gevaar het, glo ek dat daar spesifiek in terme van my wedstrydbeplanning- en bestuur nog heelwat ruimte vir verbetering is," het sy gesê. Schultz het ook 'n week voor dié SA fietsrykampioenskappe in Ethiopië aan die Afrika kontinentale padkampioenskappe deelgeneem waar sy onderskeidelik 'n sesde plek (tydtoets) en negende plek (padwedren) behaal het.
Haar volgende bestemming is Pietermaritzburg waar sy aan die SA padrykampioenskappe van 21 tot 23 Junie gaan deelneem.
Sy onderneem ook om vanaf 26 Junie in België vir vier weke aan 'n junior fietsrytoernooi te gaan deelneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'