ROLBAL NUUS - 'n Span blinde rolbalspelers vertrek Saterdag 24 Februarie, saam met hulle gidse, na Australië om aan die Wêreldkampioenskap vir visueel gestremdes rolbal te gaan deelneem. Die kampioenskap vind plaas vanaf 5 tot 16 Maart.
Eben Fourie en sy gids, Charles Collen van Hartenbos-rolbalklub vertrek Saterdag 25 Februarie so 13:45 van George na Johannesburg om Sondag 26 Februarie by die res van die Suid-Afrikaanse span aan te sluit.
Hulle vlieg Sondag 13:45 via Singapore, na Brisbane, om so 'n paar dae voor die tyd aan die bane en toestande van Australië gewoond te raak. Hulle speel by Tweed Heads-rolbalklub, aan die Gold Coast.
Eben wat 'n oud-Kwagga is, en in George grootgeword het, was in Hoërskool Outeniqua, en het in 1969 skool verlaat. Fourie se vrou Hannetjie het al die Hartenbossers, Mosselbaaiers en vriende van die omliggende gemeenskappe bedank vir bydraes en die wat gehelp het deur donasies en ander maniere om geld in te samel.
Die hele span se doelwit was R 1,2 miljoen en die span kort nog sowat R70 000. "Ons het deur die hele insamelingsprojek bitter min nee's gekry. Ek het weereens besef hierdie gemeenskap het oop harte en hande vir die gestremdes," sê Hannetjie.
Hulle het ook die burgemeester en sy komitee bedank vir hulle bydrae aan die span.
"Elize Nel wat stil agter die skerms 'n groot bydrae gemaak het en ons gehelp het om met die regte mense kontak te maak. Baie dankie ook aan die Mosselbaai-sportraad vir hulle bydrae, Shjanniel, Raadslid Donovan Claassen," sê sy.
Met twee pretdrawwe waar medaljes uitgedeel is wat deur Mossel Bay Advertiser lesers en die gemeenskap geskenk is, is ook geld ingesamel vir die twee manne. Hannetjie bedank ook al die drawwers wat deelgeneem het, Denise Lloyd, die Hartenbos-rolbalklub, borge vir die pryse en Mossel Bay Advertiser vir hulle bydraes.
"Nou is die taak op Eben, Charles en die res van die span se skouers om Suid-Afrika met trots te gaan verteenwoordig, hul bes te doen, die spantrofeë en medaljes huis toe te bring," sê sy.
"Ons staan bankvas agter hulle en bid vir 'n veilige reis soontoe en terug." Hulle word 20 Maart terug verwag in Suid-Afrika.
Tydens 'n besoek aan die munisipaliteit het uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé, die span voorspoed toegewens. Van link is direkteur ELize Nel, Hannetjie Fourie, Eben Fourie, Dirk Kotzé, Charles Collen en raadslid Donovan Claassen.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'