OUDTSHOORN NUUS - Die SA Vroue Binnenshuise Hokkiespan is die week in Oudtshoorn vir die Wêreldbekeroefenkamp en die SA spelers gaan ook klinieke vir plaaslike spelers aanbied.
Die span gaan in 2025 aan die wêreldbeker in Kroasië deelneem.
Volgens Charnè Dalton, hoofafrigter van Oudtshoorn Elephants, sal die vroue reeds vandag (Woensdag 21 Augustus) in Oudtshoorn arriveer.
"Dit is 'n reusevoorreg om die span in die dorp te ontvang. Oudtshoorn is self besig om hul eie binnenshuisehokkiespan op die been te bring en tesame met die oefenkamp gaan hulle ook met ons plaaslike spelers werk om hul vaardighede te verbeter.
"Die hoofafrigter van die SA Vroue Binnenshuise Hokkiespan, AJ Spieringshoek, was vroeër die jaar hier om met spelers wat in die sport belangstel te gesels.
Klinieke vir Oudtshoorniete
Donderdag 22 Augustus om 14:00 het hulle 'n kliniek met die o. 13-seuns en dogterspanne op Gimmies se astrobaan en om 15:00 met die eerste spanne. Vrydag om 11:00 bied hulle 'n kliniek vir die publiek by die Bridgton-sportterrein aan en om 12:00 sal daar 'n afrigtingskliniek in Dysselsdorp wees.
Wedstryde
Behalwe vir die klinieke word die publiek ook genooi na die wedstryde wat by die De Jager-sportkompleks gespeel word.
Ingangsfooie is R20 en kinders kry gratis toegang.
Donderdag 22 Augustus
- 17:00 Spar SA Vroue 1 vs Eden-uitnodigingspan
- 18:00 Spar SA Vroue 2 vs Eden-uitnodigingspan
Vrydag 23 Augustus
- 19:00 Spar SA Vroue 1 uitnodigingswedstryd
Saterdag 24 Augustus
- 19:00 Spar SA Vroue 1 uitnodigingswedstryd
Sondag 25 Augustus
- 08:00 17:00 Spar SA Vroue 1 vs Eden-uitnodigingspan
- 09:00 17:00 Spar SA Vroue 1 vs Slater-uitnodigingspan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’