OUDTSHOORN NUUS - 'n Besige paar seisoene lê vir die volgende twee jaar vir Eden-tweekamp voor. So sê Dave van der Walt, een van die jare lange organiseerders van tweekampbyeenkomste.
Volgens Van der Walt is die SA tweekampkampioenskappe vir beide 2025 en 2026 aan Eden toegeken.
"Dit word in Oudtshoorn aange-bied, nie net omdat Oudtshoorn kan spog met die ideale sportfasiliteite vir tweekamp nie, maar ook die billike en beskikbare akkommodasie, die aangename weersomstandighede, die puik toerisme-attraksies en natuurlik die vriendelike Klein Karoo-mense. Voeg daarby die gerekende sport-administrateurs en beskikbare Event Management-instansies en dit vorm die wenresep vir hierdie nasionale byeenkomste. Die datum vir die nasionale byeenkoms is vanaf 21 tot 22 Maart 2025. Veertien provinsies vanoor die hele Suid-Afrika kom deelneem," het Van der Walt gesê.
Volgens Van der Walt het altesaam 967 atlete in Maart vanjaar aan die SA kampioenskappe deelgeneem wat in Bloemfontein gehou is.
Intussen gaan die normale program van Eden-tweekamp voort en word daar benewens die Highgate-interprovinsiale byeenkoms ook twee proewe-byeenkomste, vier ligabyeenkomste, die Wimpy Doubles-byeenkoms, twee ontwikkelingsklinieke en 'n kapasiteitsbou-werksessie aangebied.
Die Highgate Eden-tweekamp-spanne (meriete en ontwikkeling) gaan aan die einde van Oktober ook aan die OP-interprovinsiale byeenkoms in Gqeberha meeding.
Van der Walt sê dat daar deur SA toerisme gereken word op R900 per persoon per dag wat as riglyn gebruik word vir uitgawes.
"Volgens hierdie berekeninge word daar rofweg geskat dat die Highgate-byeenkoms in die omgewing van R4,5 miljoen vir Oudtshoorn sal inbring. Dit is dan ook hoofsaaklik die hotelle, gastehuise, restaurant, brandstofvulstasies, winkels en ander besighede wat die vrugte daarvan pluk. Die Oudtshoorn-sportinisiatief asook die Oudtshoorn-sakekamer is instansies vir die besighede om aan te behoort. Dit skep ook heelwat werksgeleenthede, al is dit ook net tydelik."
Van der Walt het primêre borge soos die Oudtshoorn-munisipaliteit, Highgate-volstruisplaas en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport bedank wat hierdie topklasbyeenkomste moontlik maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’