OUDTSHOORN NUUS - Twee Oudtshoorniete, Fienie Barnard en Yolande de Villiers tesame met hul spanmaats Kobus Barnard en Kevin Taljaard, het die afgelope naweek onderskeidelik eerste en derde plekke in die eerste skof gemengde pare (97 km) van die jaarlikse Momentum Health Cape Pioneer Trek losgery.
Hierdie bergfietswedren het Sondag begin en eindig Saterdag (môre). Dit word deur Biogen aangebied en word vanjaar oor 'n splinternuwe roete vanaf Mosselbaai tot Oudtshoorn beslis.
Vir Fienie en Kobus was dit 'n soete oorwinning omdat hulle verbeter het op verlede jaar se tweede plek wat hulle ingepalm het. Sy het ook in Mei die 36ONE MTB Challenge se vroue-afdeling gewen.
Yolande en Kevin was die vorige jaar se Cape Pioneer Trek-wenner in dié gemengde pare-afdeling. Yolande se derde plek in vanjaar se uitmergelende bergfietswedren is veral merkwaardig omdat sy vroeër vanjaar in 'n ernstige ongeluk betrokke was. Die Cape Pioneer Trek was ook haar eerste mededingende wedren sedert die ongeluk.
Die Oudtshoorn Courant in Julie berig dat sy in dié ongeluk haar linker tibia op vier plekke gebreek het. Sy het ook 'n fraktuur aan haar fibula opgedoen.
Haar linkerbeen was ten tyde van die onderhoud steeds in 'n ysterstut.
Sy het egter sedertdien met volgehoue terapie en oefening wonderbaarlik herstel; soveel so dat sy binne 'n tydperk van slegs een maand weer op die podium van hierdie strawwe bergfietswedren kon staan.
Fienie Barnard (links) en Kobus Barnard. Foto: Deidre Cloete
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'