OUDTSHOORN NUUS - Die Oudsthoorn-afrigtersforum het Saterdagoggend vanaf 09:00 by Colridge Primêr 'n drieuur lange afrigtingskliniek gehou waar hulle met verskillende skole se rugbysplers (dogters ingesluit) gewerk het.
Die doel van die slypsessies was om die spelers se basiese vaardighede, hardlooplyne, kommunikasie, balhantering, aanval- en verdedigingspatrone op te skerp.
Volgens een van die afrigters Marius Mei, bestaan dié afrigtingsforum uit afrigters van plaaslike rugbyklubs (onder die SWD-rugbyunie vaandel).
Tesame met Mei is bekendes in rugbykringe soos Damon Gysman en Bertrum Hendricks ook betrokke met die organisering van die afrigtingskliniek en konsentreer hulle hoofsaaklik op die ouderdomsgroepe vanaf nege, twaalf, vyftien en sestien jaar.
Volgens Mei was daar Saterdag selfs 'n ouer van Laerskool Park in Mosselbaai wat haar kind gebring het om te kom oefen.
Hierdie gratis slypsessies sal tot 30 November duur en dan weer 19 Januarie voorgesit word.
Mei het voorts ook alle skole se leerders en afrigters in Oudtshoorn genooi om die oorblywende twee sessies van die jaar te kom bywoon. Belangstellendes kan Marius Mei by 073 141 1123 of Damon Gysman by 073 441 2619 skakel vir meer besonderhede.
Leerders word gedril hoe om hul oefenroetines korrek uit te voer.
Een van die afrigters, Marius Mei besig om die leerders touwys te maak.
Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'