OUDTSHOORN NUUS - Altesame 35 sportfederasies van die Eden-sportraad het 'n raps meer as R3 miljoen vir hul werksaamhede vir vanjaar ontvang.
Die tjek van R3 150 000 is verlede Donderdag op Oudtshoorn deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van die departement van kultuursake en sport (DKES) aan hulle oorhandig.
Dis die grootste bydrae nog en is 'n stewige verhoging van die R2 095 000 wat verlede jaar oorhandig is.
Dié fondse moet vir die administrasie, ontwikkeling, transformasie, kapasiteitsbou en byeenkomste met interdistrikte, provinsiale, nasionale en selfs internasionale status aangewend word.
Voor die tjekoorhandiging het Old Mutual, een van DKES se vennote, 'n finansiële inligtingsessie aangebied. Dis opgevolg met die oorhandiging van sporttoerusting aan lede van die klubontwikkelingsprogram in die Wes-Kaap. In haar toespraak het minister Marais net lof gehad vir die manier waarop die Eden-sportraad sportsake in die Eden-distrik bestuur.
Die geaffilieerde federasies spog met die beste transformasie indeks in die Wes-Kaap. Eden bied ook, naas die Kaapstad-distrik, die meeste topbyeenkomste aan.
Vir die tydperk 2019/20 word reeds 37 byeenkomste met status van interdistrikte, provinsiale en nasionale status aangebied, wat ook 'n groot finansiële inspuiting vir die Eden-distrik sal wees en 'n goeie bydrae tot sporttoerisme kan aanhelp. Hieronder tel ses internasionale en 12 nasionale byeenkomste.
Rofweg kan dit 'n ekonomiese inspuiting van meer as R250 000 000 vir die Eden-sportdistrik inbring.
In sy bedankingswoord het die voorsitter van die Eden-sportraad, Desmond Speelman, DKES bedank vir die finansiering en terselfdertyd die federasies gemaan om die fondse op die regte plekke te gebruik sodat die Eden-distrik maksimum benutting daaruit kan kry. Hy het ook alle DKES-amptenare, veral die Eden-distrikskantoor, bedank vir hul samewerking en ondersteuning.
'n Oomblik van stilte is ook gehou vir die afsterwe van Trevor en Elma Davis, wat albei diep spore in rolbal in die Wes-Kaap, Suid-Afrika en internasionaal getrap het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'