OUDTSHOORN NUUS - Met 57 spelers is die laaste van die 2017 maandelikse sakekamer gholfdae Woensdag 6 Desember afgehandel.
Wico Louwrens en Dawid Greeff het op 'n uittel van 45 punte die dag se gholf gewen.
Paul Stroebel en Ferdi Jonck (45 punte) was tweede, met Piet Swanepoel en Christo van Zyl (44 punte) derde.
Die gholfdag is geborg deur James King en Badenhorst Prokureurs en Turnberry Boutique Hotel.
Gideon Badenhorst het namens die sakekamer gesê die reeks gholfdae was 'n reusesukses. Sedert die eerste gholfdag in Februarie het 602 spelers aan die kompetisie deelgeneem. Op die laaste dag was 51 van die 57 spelers deel van die jaar se kompetisie.
Ongeveer R85 000 is ingesamel uit die gholfdae.
Die gholfdae het prystafels gelaai met duursame pryse deur die jaar. Die laaste dag se prystafel was R10 000 werd.
Badenhorst het die borge bedank vir die skenkings en het Helen Butler, die sakekamer se kantooradministrateur, uitgesonder vir haar harde werk om elke maand se gholfdag moontlik te maak.
"Jy is 'n steunpilaar," het hy haar beskryf.
Behalwe vir die wenners, het spelers ook pryse gewen vir houe naaste aan die penne en spog tweehoue.
Die wenners van die laaste sakekamer gholfdag vir 2018, is Dawid Greeff (tweede van links) en Wico Louwrens (tweede van regs). Van links is Johan Cornelissen (klubkaptein), Greeff, Helen Butler (sakekamer kantoor administrateur), Leon Delport (James King en Badenhorst Prokureurs), Louwrens en Niel Els (Turnberry Boutique Hotel). Foto's: Christo Vermaak
Greeff (3de putjie), Gerrit Janse van Rensburg (8ste putjie), Terry van Coller (12de putjie) en Hannes Oosthuizen (15de putjie) was die naaste aan die penne.
Spog tweehoue is geslaan deur Swanepoel (15de putjie), Oubaas Kersop (8ste putjie), Janse van Rensburg (8ste en 15de putjies) en Van Coller (12de putjie).
• Saterdag 9 Desember het Van Coller (39 punte) die individuele Stableford-gholfdag gewen.
Op 'n 39 punte uittel was Garth Matthews tweede en Jaco Mortlock op 37 punte derde.
Swanepoel het die boerpot gewen en was ook die enigste speler wat 'n prys gewen het vir 'n naaste aan die pen hou.
Derde plek: Christo van Zyl (links) en Piet Swanepoel.
Spog tweehoue is deur Mortlock (3de putjie), Ockie Horowitz (8ste putjie) Louis Fourie (jr.) (8ste putjie), Swanepoel (12de putjie) en Kobus Griebenhouw (12de putjie) geslaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'