OUDTSHOORN GHOLF NUUS - Een van Oudtshoorn se jong gholfspelers, Gabriël Malgas (10), is onlangs gekies vir die SWD-gholfspan wat op 9 Oktober in 'n driehoek-provinsiale reeks in Port Elizabeth gaan deelneem.
Malgas is 'n gr. 5-leerder by Laerskool Wesbank en op die oomblik ook die jongste lid van die Oudtshoorn-gholfklub.
Sy pa, William Malgas, het tydens 'n telefoniese gesprek met die Oudtshoorn Courant gesê hy is ontsettend trots op wat sy seun op so 'n jong ouderdom reeds op die gholfbaan vermag het.
" Ek onthou ek het op 5-jarige ouderdom die eerste keer vir hom 'n plastiekgholfstok gegee. Later het ek hom die ware Jakob gegee en ek kon toe reeds sien dat hy 'n slag met dié sportsoort het. Dis veral sy dryfwerk en kortspel wat my beïndruk het.
Op die oomblik is sy voorgee 'n 18. Op skool was Gabriël ook 'n vinnige atleet en rugbyspeler. Vanjaar het hy egter self besluit dat hy net op gholf wil fokus. As sy pa, voel ek dat indien dit sy begeerte is, ek nie met sy besluit sal inmeng nie. Dis duidelik dat hy 'n passie vir gholf het en met die nodige deursettingsvermoë en toegewydheid, is daar geen rede hoekom hy nie die hoogste vlak kan bereik nie."
Gabriël kom uit 'n gholfmal-familie wat bekende spelers soos Godfrey Malgas (president van die Oudtshoorn-gholfklub), Chloë-Kelpin Malgas, Dimitri Malgas en sy pa insluit. Malgas senior sê dat hy gereeld Gabriël herinner dat gholf 'n sportsoort is wat jou nederig hou omdat jy nie elke dag dieselfde gehalte gholf opdis nie. "Vir hierdie rede het ek vir hom ook 'n notaboekie gegee met aantekeninge hoe om byvoorbeeld sy setwerk, dryf, sandkuilhoue en chiphoue op die gholfbaan te benader. Op die oomblik is hier nie veel junior-gholftoernooie op Oudtshoorn nie en moet ons dikwels George toe reis sodat hy met ander spelers van sy ouderdom kan kompeteer. My plan is egter om hom in die nabye toekoms by 'n gerekende gholfakademie in te skryf wat sy spel verder kan ontwikkel."
Gabriël Malgas
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'