Gallery
OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Allan Fortuin het met 45 punte verlede Saterdag by die Oudtshoorn-gholfklub die nie-winsgewende organisasie, Sport Buddy se gholfdag gewen en met 'n halwe lam weggestap.
Malcolm Manuel was met 43 punte in die tweede plek gevolg deur Gerald Micheals (42 punte) wat in die derde plek geëindig het. Manual en Micheals was ook die naaste aan die pen op die 8ste en 12de putjies.
Coenie Nel het die langste dryf op die 16de putjie geslaan. Pieter Pretorius (41 punte) het vir sy vierde plek 'n lamsboud gewen.
Die dag was in goeie gees gespeel en deelnemers het op die 12de putjie soos verlede jaar 'n heerlike gebraaide boerworsrol en koeldrank geniet. Nie-alkoholiese verversings en gesuiwerde water was ook beskikbaar om die manne en dames se dors te les.
Fotogalery: Sport Buddy se gholfdag
Altesaam 55 spelers het op dié dag afgeslaan en is ten bate van die Amber Saaiman en Envor Goba (baldansers) asook Sergio Arries (gholfspelers) gehou. Voor die aanvang van die prysuitdeling het Saaiman en Goba twee energieke dansvertonings vir die gehoor gelewer.
Sport Buddy is verlede jaar gestig en beywer hom daarvoor om alle behoeftige sportsterre, wat bogemiddeld presteer ongeag hul agtergrond finansieel of andersins, by te staan.
Van links is Byron Michaels (Sport Buddy), Ilca Ewerts (Sport Buddy), Paul Stroebel (klubkaptein), Malcolm Manuel (tweede plek), Gerald Micheals (derde plek) en Sue- Lanya Ewerts (Sport Buddy). Agter is Sport Buddy se stigterslid, Wyndham Ewerts. Die wenner van dié gholfdag, Allan Fortuin was afwesig tydens die prysuitdeling. Foto verskaf
Saterdag se gholfdag was dié organisasie se tweede in hul vyf maande bestaan nadat hulle verlede jaar November met hul eerste gholfdag R 10 000 vir die model Anike Thom (Laerskool Wesbank) en die krieketspeler Kamva Qusheka ingesamel het.
Sport Buddy se stigterslid, Wyndham Ewerts, het Saterdag se gholfdag as suksesvol beskryf.
"As 'n mens in ag neem dat meeste sportsoorte weens die koronavirus opgeskort is, is ons dankbaar dat die gholfspelers in hul getalle opgedaag het om dié inisiatief te ondersteun. Ons het amptelike toestemming by die bestuur van Oudtshoorn-gholfklub gekry om voort te gaan met ons fondsinsameling en streng voorsorgmaatreëls soos getallebeheer in beperkte spasies en die aanwending van ontsmettingsmiddels is voortdurend toegepas.
Sport Buddy se bestuur wil ook al die borge bedank wat hierdie dag moontlik gemaak het. Wees verseker dat u bydrae hoog op prys gestel word."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'