OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Die jaarlikse Spar-gholfdag wat verlede Saterdag by die Oudtshoorn-gholfklub aangebied is, het 'n allemintige 244 spelers gelok.
Dié gewilde gholfdag, wat as een van die grootstes in die provinsie beskou word, het oudergewoonte weer twee voertuie (Toyota en Hyundai) op die spel gehad indien spelers 'n kolhou op die 12de en agste putjie kon aanteken.
Ook vir 'n kolhou kon spelers R100 000 op die derde en 15de putjie inpalm. Groot pryse was op die spel vir die wenners asook verskeie gelukstrekkings waarin deelnemers pryse ontvang het.
Volgens Skillie Pretorius, eienaar van Oudtshoorn Spar, lê die Oudtshoorn-gholfklub hom baie na aan die hart en dis hoekom hy dit vanjaar vir die sesde keer aangebied het.
"As 'n besigheid maak ons geen wins uit die gholfdag nie. Al die winste gaan na die gholfklub om sy voortbestaan te verseker. Die samesyn van al die mense wat spesiaal ons dorp besoek is ook vir my lekker. As 'n ouerige man is daar ook nie veel ander sportsoorte waarin ek kan deelneem nie en gholf is verseker my gunsteling. Die feit dat ek en my twee seuns ook gereeld saam gholf speel maak dit soveel lekkerder."
Pretorius het 'n beroep op die Oudtshoorn-gemeenskap gedoen om Oudtshoorn Spar en al die besighede wat die jaarlikse gholfdag moontlik maak deur die jaar te ondersteun.
Jurie Neethling, klubkaptein van die Oudtshoorn-gholfklub het op sy beurt gesê dat Oudtshoorn Spar-gholfdag die hoogtepunt op die plaaslike gholfkalender is en bevestig dat al die geld wat op die dag ingesamel word ten bate van die gholfklub is.
"Ons is baie dankbaar teenoor Oudtshoorn Spar vir die groot finansiële inspuiting wat hierdie gholfdag jaarliks vir die klub genereer. Ook 'n groot woord van dank aan al die borge en spelers wat die dag ondersteun het."
Die pa en seun-kombinasie, Bennie en Jaco van Zyl van Dolphins Creek-gholfklub in Groot-Brakrivier, het die gholfdag wat in 4BBB Scramble Drive-formaat gespeel is, met 'n yslike 60 punte gewen.
Danie van der Berg slaan af.
Die spelers geniet 'n worsbroodjie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'