OUDTSHOORN GHOLFNUUS - 'n Talentvolle jong gholfspeler van Oudtshoorn, Sergio Arries (Garcie) het onlangs R2 000 van die nie-winsgewende organisasie, Sport Buddy, ontvang. Sport Buddy is vyf maande gelede op die been gebring om alle belowende jong sportmanne en -vroue in die Oudtshoorn-omgewing te ondersteun.
Sergio het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy op 4-jarige ouderdom vir die eerste keer saam met sy pa, Jakobus Arries, gholf gespeel het en hulle het gereeld op die oop stuk veld agter Aurial Kollege gaan balle slaan. So tussendeur sy gholfspelery het hy ook rugby en krieket vir Sacred Heart Primêr gespeel.
Op 12 het hy vir die eerste keer gholf ernstig begin opneem en kort daarna die wentrofee by die Oudtshoorn-gholfdag losgeslaan. In 2019 het hy geseëvier by nog twee sulke gholfdae. Hy sê daar is nog baie skaafwerk aan sekere aspekte van sy spel, maar is dankbaar vir die afrigting wat hy by sy pa, Jakobus en 'n huisvriend, Louis Stander kry. Sy pa sê sy seun se kortspel is een van sy sterk punte.
"Soos Garcie groter raak sal hy natuurlik die bal verder ook begin dryf. Oor daardie aspek van sy spel worry ek nie juis nie. It's not how you drive, it's how you arrive. Hierdie klong van my het die wêreld se potensiaal en ek is Sport Buddy ewig dankbaar dat hulle sy talent raakgesien het en in hom belê het. Die publiek kan weet dat hy nog eendag groot naam op die gholfbaan gaan maak."
Sergio is na die Spaanse gholfsuperster, Sergio Garcia vernoem, vandaar ook sy bynaam, Garcie. "Tot dusver doen hy beslis sy naam gestand," sê Jakobus trots.
Sergio se voorgee is 12, terwyl sy beste ooit, 'n 9 was.
Om 'n beroepspeler te word moet jou voorgee 5 onder baansyfer wees en dit is presies wat Sergio beplan om te doen. Indien dit nie realiseer nie, sou hy graag enige ander beroep in gholf wil volg.
Sport Buddy het voor die koms van die koronavirus reeds twee fondsinsamelings begin en tot dusver R14 000 aan behoeftige plaaslike sportsterre geskenk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'