OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Oudtshoorn Spar het Saterdag een van die suksesvolste gholfdae in jare by die Oudtshoorn-gholfbaan gehou. Altesaam 208 spelers het in 'n gekombineerde Stableford-formaat afgeslaan met die inskrywingsgeld wat R400 per speler beloop het.
Groot pryse was op die spel met die wenners wat onder meer elkeen met 'n heel lam weggestap het. Spelers wat onder die top-30 geëindig het is almal met pryse beloon.
Die eerste drie plekke deur nie-plaaslike spelers gewen. Sheldon Booysen en Louis Willeman was die eerste Oudtshoorniete op die telkaart in die vierde plek met 'n telling van 90 punte.
Daar was ook verskeie gelukstrekkings met bykans al die deelnemers wat 'n prys van enige aard ontvang het. Die groot trekpleister van dié dag was beslis die vier motors (Ford Focus, Polo Vivo en twee Hyundai's) wat op die derde, agste, twaalfde en vyftiende putjie op die spel was.
Spelers wat op hierdie putjies 'n volmaakte gelukhou kon aanteken sou die motors huis toe kon neem. Ongelukkig het die gholf-gode besluit dat niemand dit op die dag vermag nie.
Volgens Skillie Pretorius, eienaar van Oudtshoorn Spar, het die gholfdag sy verwagtinge oortref en is hy baie tevrede met die bedrag wat ingesamel is op die dag.
"Dit was 'n riem onder my hart om die heerlike samesyn van mense te sien en ook om die feestelike atmosfeer te ervaar wat geheers het." Tydens die prysuitdeling het die Oudtshoorn-gholfklub se klubkaptein, Paul Stroebel, ook 'n Putter-trofee aan Pretorius oorhandig.
Higgo Jacobs in aksie. Foto: Ebenezer Titus
Hierdie trofee word jaarliks toegeken aan die organisasie of maatskappy wat die meeste fondse vir dié klub insamel. "Ons is baie dankbaar aan Oudtshoorn Spar vir die groot finansiële inspuiting wat met hierdie gholfdag genereer is.
Hierdie geld kan nou aangewend word om die klubhuis-strukture op te knap en ook om die gholfbaan te help onderhou. Daar moet ook 'n lansie vir die Ockie Horowitz en die baanpersoneel gebreek word vir die uitstekende toestand van die gholfbaan," het Stroebel gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'