OUDTSHOORN NUUS - Erik van Rooyen (31), oudleerder van Hoërskool Oudtshoorn en voormalige lid van die Oudtshoorn-gholfklub het verlede Sondag sy eerste PGA-gholftitel in Amerika gewen.
Van Rooyen se algehele 50 punte was genoeg om die naaswenner Andrew Putnam (VSA) met vyf punte te troef.
Die toernooi is op die Old Greenwood-gholfbaan in Truckee, Kalifornië gespeel. Sondag se oorwinning is Van Rooyen se vierde grootste oorwinning van sy loopbaan nadat hy reeds in 2017 oorwinnings in die Suid-Afrikaanse Sunshine en Chinese Challenge -gholftoernooie gesmaak het. In 2019 was hy ook baas in die Deense Ope (Europese-toer).
Erik se pa, Wim van Rooyen, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy ontsettend trots op sy seun is. "Vandat Erik agt jaar oud is, was gholf die enigste sportsoort wat hy wou beoefen. Sy sukses wat hy op internasionale vlak behaal, is 'n testament van sy toewyding aan gholf. Ek wens hom alle voorspoed toe met sy loopbaan."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'