OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer se laaste maandelikse gholfdag vir 2023 het onlangs by die Oudtshoorn-gholfklub plaasgevind en 48 spelers gelok om aan die 4BBB-formaat deel te neem.
Die dag se spel is geborg deur Tyremart - verteenwoordig deur Rudi Steyl, maar die jaarlikse wenners is ook aangewys met pryse geborg deur Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, verteenwoordig deur Corleen Barnard.
Stephen Terblanche en Wynand Louw was gelukkig om as wenners weg te stap van beide die dag se spel op 48 punte, asook die jaarlikse kampioene.
Die jaarlikse wenners is bepaal nadat elke maand se wenners teen mekaar gespeel het, met die span met die beste telling wat as die jaarwenner aangewys is.
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het klem daarop gelê dat die plaaslike besigheidskamer een van die min instansies in die omgewing is wat maandeliks 'n gholfdag kan aanbied, "en dit is alleenlik te danke aan ons borge! Sonder julle sou dit nie moontlik wees nie," het hy bygevoeg.
Hy het ook sy dank aan die gholfklub en die gholfbaan se personeel uitgespreek. Makka Swart, nuutverkose klubkaptein, het op sy beurt die besigheidskamer bedank en lede van die gholfklub aangemoedig om in die nuwe jaar elke gholfdag te ondersteun. Hy het spelers herinner aan die Kersdag-gholfdag wat Saterdag 16 Desember daar sal plaasvind.
In die tweede plek op 47 punte was Skillie Pretorius en sy seun Piet, en in derde plek op 45 punte was Charl du Plessis en Ronél Westraad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’