OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Die Oudtshoorn-gholfklub het Saterdag na afloop van hul weeklikse klubkompetisie kruideniersware aan 15 plaaslike joggies oorhandig.
Volgens die klubkaptein, Paul Stroebel, is hierdie gebaar die spelers se beskeie manier om hul waardering teenoor die joggies te betoon.
"Ons almal het swaar getrek met die begin van die nasionale inperkingsmaatreëls, meer so ons joggies.
"As ons nie speel nie, beteken dit hulle kan nie fooitjies verdien nie. Ek is regtig trots op die manier waarop die plaaslike gholfgemeenskap saamgestaan het om kruideniersware te skenk sodat ons dit met die joggies kan deel. Op dié manier kan die joggies ook, afgesien van hulle fooitjies, kos op die tafel sit."
Intussen is nog hulp op pad. Bruce Younge, operasionele bestuurder van GholfRSA het tydens 'n gesprek aan Oudtshoorn Courant gesê dat 'n Covid 19-verligtingsfonds op die been gebring is om landwyd hulp te verleen aan alle joggies en tydelike werkers wat by gholfklubs werksaam is.
Hy het gesê dat al GholfRSA se toernooie gedurende die inperkingsgsperiode gekanselleer is.
"Dit tesame met die vrywillige verlaging van salarisse deur personeellede asook veilings vir Covid-19-fondsinsamelings het ons in staat gestel om voedselkoopbewyse aan meer as 5 000 joggies landwyd te verskaf. Ons het tot op hede ongeveer R2,5 miljoen aan hierdie projek bestee en sal daarmee voortgaan totdat die joggies weer soos normaal kan werk, mits ons fondse dit natuurlik toelaat. Oudtshoorn se joggies sal binnekort hul koopbewyse ontvang, " het Younge gesê.
Willie Cobus, een van die joggies wat Saterdag 'n kospakkie ontvang het en ook 'n begunstigde vir GholfRSA se koopbewys is, het die Oudtshoorn-gholfklub en spelers bedank vir hul welwillendheid.
"Dit beteken regtig baie vir die manne en hul gesinne en ons kan nou met 'n breë glimlag huis toe gaan."
In die middel met die wit gholfhemp is die Oudtshoorn-gholfklub se klubkaptein, Paul Stroebel, saam met die joggies wat die kospakkies ontvang het.
Saterdag se individuele Stableford-gholfdag het altesaam 61 spelers gelok. Marthinus Oosthuizen was met 41 punte baas gevolg Jean Neethling (39 punte) en Kobus Griebenouw (34 punte) wat onderskeidelike tweede en derde geëindig het. Oosthuizen het ook die boerpot met 13 punte gewen. Louis Fourie het op die derde putjie die naaste aan die pen geslaan. Spogtwees is deur Johan van der Westhuizen (agste putjie), Lourie Boshoff (12de putjie, Charl du Plessis (12 en 14de putjie), Salie Oosthuizen (derde putjie), Ockie Horowitch ( 12de putjie) en Marthinus Oosthuizen op die derde putjie aangeteken.
Die manne het Saterdag oudergewoonte hul sosiale afstand gehou soos die Covid-19-reëls bepaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'