OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Lawton Truter, Leon Crous, Ian Truter en Johan Reineke het verlede Donderdag die Klein Karoo Agri-groep se jaarlikse gholfdag by die Oudtshoorn-gholfbaan gewen. Altesaam 120 spelers het afgeslaan op die dag wat in die American Scramble Drive-formaat beslis is.
Tydens die prysuitdeling het Terblanche du Plessis (besturende direkteur van KKA) 'n tjek ter waarde van R15 000 aan Wilma Lemmer van die Eljada-nasorgsentrum oorhandig.
Lemmer het haar waardering teenoor die KKA uitgespreek en gesê dat die inperkingregulasies van die afgelope jaar moeilik op Eljada se inwoners was.
"Vir hierdie rede is daar besluit om 'n deel van die fondse te gebruik vir 'n heerlike uitstappie wat in Desember sal plaasvind. Die res van die fondse sal ons soos gewoonlik weer vir mediese behoeftes, klere en voesel aanwend," het Lemmer gesê.
Du Plessis het gedurende die formaliteite ook 'n versamelings wynbottels vir R11 000 opgeveil ten bate van die Oudtshoorn-gholfklub se projek om die gholfbaan ten volle te omhein. Die spelers is na afloop van die prysuitdeling met 'n heerlike ete getrakteer.
Van links is Jaco Haman (borg Absa) saam met die wenners, Lawton Truter, Leon Crous, Terblanche du Plessis (Klein Karoo Agri) en Johan Reineke. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'