OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Plaaslike gholfliefhebbers het verlede week die goeie nuus gekry dat hulle vanaf 14 Junie weer hul gholfstokke by hul onderskeie gholfklubs mag swaai, presies drie maande nadat alle sportsoorte landwyd onder die inperkingsmaatreëls verbied is.
Hierdie vergunning van die regering kom nadat GolfRSA, Suid-Afrikaanse Beroepspelersvereniging (Professional Golfers' Association - PGA) en die Klubbestuursvereniging van Suider-Afrika aan die minister van sport, Nathi Mthethwa, 'n skrywe gerig het waarin hulle 'n versoek gerig het om gholf weer die lig te laat sien.
Volgens die klubkaptein van die Oudtshoorn-gholfklub, Paul Stroebel, is die klublede en spelers oor die algemeen uit hul velle van opgewondenheid.
"Natuurlik is daar baie veiligheidsmaatreëls wat met dié vergunning gepaardgaan, maar ons lewe in elk geval in 'n tydperk waarin persoonlike veiligheid in die samelewing hoog op die prys gestel word, so ons verwelkom dié reëls met ope arms. Vanweë die manier hoe gholf gespeel word is een aspek naamlik die verpligte sosiale afstand van mekaar 'n natuurlike roetine by gholfspelers omdat die spel in die natuur gespeel word. Ons is uiteraard ook dankbaar uit 'n finansiële oogpunt omdat die klub se reserwes weens die inperking uitgeput is," het Stroebel gesê.
Altesaam 62 spelers het Saterdag 'n potjie gholf by die Oudtshoorn-gholfbaan gespeel, terwyl 58 spelers Sondag afgeslaan het.
Inskywingsfooie beloop R100 per persoon indien jy 'n lid van die Oudtshoorn-gholfklub is.
Nie-lede betaal R200, terwyl spelers wat aan geen klub verbonde is nie, R230 moet betaal.
Vernaamste reëls wat van toepassing is op alle gholfklubs:
- Gholfklubs se operasionele ure streng is vanaf 08:00 tot 18:00.
- Afslaantye moet geboek word.
- Nie meer as vier persone op 'n slag in die kroeglokaal nie.
- Geen drankverkope in kroeg. Slegs koeldrank.
- Maskers moet gedra word.
- Temperatuur van alle spelers moet gemeet word sodra hulle die perseel betree.
- Hande moet ook gedurig ontsmet word.
- Geen geborgde gholfdae mag gehou word nie.
- Joggies mag nie stokke hanteer nie. Hulle kan wel die gholfsak dra.
- Gholfvlae by die putjies mag nie met die blote hand hanteer word nie.
- Sosiale afstand moet te alle tye gehandhaaf word.
- Alle spelers moet onmiddellik die gholfbaan verlaat as hulle klaar gespeel het. Geen rondhangery sal geduld word nie.
- 'n Baanbeampte moet altyd teenwoordig wees om toe te sien dat bogenoemde reëls streng toegepas word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'