OUDTSHOORN GHOLFNUUS - Allan Fortuin het met 45 punte verlede Saterdag by die Oudtshoorn-gholfklub die nie-winsgewende organisasie, Sport Buddy se gholfdag gewen en in die proses met 'n halwe lam weggestap.
Malcolm Manuel was met 43 punte in die tweede plek gevolg deur Gerald Micheals (42 punte) wat in die derde plek geëindig het.
Manual en Micheals was ook die naaste aan die pen op die 8ste en 12de putjies. Coenie Nel het die langste dryf op die 16de putjie geslaan. Pieter Pretorius (41 punte) het vir sy vierde plek 'n lamsboud gewen.
Die dag was in goeie gees gespeel en deelnemers het op die 12de putjie soos verlede jaar 'n heerlike gebraaide boerworsrol en koeldrank geniet. Nie-alkoholiese verversings en gesuiwerde water was ook beskikbaar om die manne en dames se dors te les.
Altesaam 55 spelers het op dié dag afgeslaan en is ten bate van die Amber Saaiman en Envor Goba (baldansers) asook Sergio Arries (gholfspelers) gehou. Voor die aanvang van die prysuitdeling het Saaiman en Goba twee energieke dansvertonings vir die gehoor gelewer.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant as ook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'