OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel slegs twaalf spanne ingeskryf het vir die jaarlikse Famsa Karoo-gholfdag, was die dag baie suksesvol danksy die groot aantal borge en donateurs.
Ankia Smith, hooforganiseerder, het haar tevredenheid met die wins uitgespreek.
Franzu Badenhorst, direkteur van Famsa Karoo, het tydens die prysuitdeling sy dank teenoor die borge, donateurs, die gholfklub en die deelnemende spelers uitgespreek en 'n beroep op Oudtshoorniete gedoen om meer by die organisasie betrokke te raak.
Volgens Badenhorst is geleenthede soos die gholfdag noodsaaklik omdat die organisasie nie voldoende finansiële steun van die staat ontvang nie.
Wico Lourens, Bennie van Zyl, Dave Greeff en Dwayne Venter het die vierbal alliansie kompetisie met 94 Stableford-punte gewen.
Die span van Willem Burger, Jean Neethling, Ettienne Roos en Francois Verwey was tweede met 91 punte. WM Badenhorst, Salie Oosthuizen, Pieter Nel en Terry van Coller was derde met 86 punte.
Wico Lourens het die prys gewen vir die langste dryf vir mans op die sewende putjie en Pam Haig die prys vir die langste dryf vir vroue op die 13de putjie.
ARTIKEL EN FOTO'S: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'