OUDTSHOORN NUUS - Eljada-nasorgsentrum vir volwassenes met intellektuele gestremdhede tesame met Up with Down's van George en Eljada Kairos Skool, het verlede Vrydag hul jaarlikse swemgala by die NA Smit-swembad gehou.
Gerda Swart, bestuurder van Eljada-nasorgsentrum het die verwelkomings gedoen met ds. Andries Potgieter wat verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen het. Sowat 90 swemmers het in verskillende afdelings deelgeneem wat rug- en vryslagitems ingesluit het.
Dan was daar ook twee binneband-afdelings waar die swemmers of moes sit, of in die binneband moes lê. Soos gewoonlik was die deelnemers in twee groepe volgens hul fisiese vermoëns ingedeel.
Diegene wat byvoorbeeld nie kon swem nie, het aan die ewe opwindende treintjie, hondjie en stap-in-die-water items deelgeneem. Die swemgala het die 08:00 met 'n toutrekkompetisie weggespring en 'n feestelike atmosfeer het geheers.
Die voormalige vermaaklikheidskunstenaar, wat deesdae ook radio-aanbieder by EDENfm is, Paul Amas, het die toeskouers vermaak met aansteeklike liedjies wat hy oor die luidsprekers gespeel het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’