OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het Anderson Ncube (24), opwindende jong atleet van Oudtshoorn, te beurt geval toe hy onlangs as ambassadeur van Altra Running (internasionale atletiekskoene maatskappy) gekies is.
Dit beteken onder andere dat hy ook deur dié maatskappy geborg sal word wat atletieknoodsaaklikhede betref. Anderson, wat tans 'n sportafrigter by Fezekile Sekondêre skool is, sê dat hy oorstelp van vreugde en dankbaarheid is.
"Ek het reeds 'n geruime tyd aansoek gedoen vir die ambassadeurskap by Altra, maar is afgekeur. Twee maande gelede het ek egter 'n oproep van Altra se bestuur gekry nadat ek die Maxi-wedloop in Kaapstad gewen het. Hulle was baie beïndruk met my konstante goeie vertonings en die res is geskiedenis.
Atletiek kan 'n duur storie raak, veral as jy dit op 'n professionele vlak wil beoefen. Die regte voedingstowwe en aanvullings plus jou skoene, klere en vervoerkoste na wedlope kan 'n ou se sak nogal ruk. Ek is super-opgewonde oor hoe hierdie hulp en assosiasie met Altra my atletiekloopbaan gaan bevorder," het hy gesê.
Anderson en die bekende plaaslike Comrades-atleet, John April, oefen tans daagliks ter voorbereiding vir wanneer dié sportsoort se wedloopbeperkings opgehef gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'