OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se eerste burgemeestersgholfdag het Saterdag 2 Desember 104 spelers gelok. Jacobus Arries en Louis Stander het met 83 punte die dag se gholf gewen.
Die inkomste van die gholfdag sal vir studiebeurse vir plaaslike skoolverlaters aangewend word.
Met die prysuitdeling het burgemeester, Colan Sylvester, aangekondig dat Avis onderneem het om die eerste drie jaar die gholfdag met R40 000 per jaar te borg.
Sylvester het alle borge en spelers vir die sukses van die dag bedank.
"Die geld gaan vir opvoeding en opvoeding het die vermoë om die wêreld te verander. U bydrae kan nie gering geskat word nie."
Met Arries en Stander die wenners, was Frank Abrahams en Anton Theunissen (79 punte) tweede en Colin Swigelaar en Milton Groenewald (78 punte) derde.
Vier pryse vir spelers wat die bal die naaste aan die pen geslaan het, is toegeken.
Die wenners van dié pryse is WM Badenhorst (derde putjie), Danie Terblanche (agtste putjie), SA Botha (12de putjie) en N Wolmarans (15de putjie).
Chloe Kelpin het 'n prys vir die dame met die langste dryf (op die 13de putjie) gewen.
C Hess was die manspeler wat die langste dryf (op die sewende putjie) geslaan het.
Van links is Colan Sylvester en die naaswenners, Frank Abrahams en Anton Theunissen.
ARTIKEL & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'